Ritverslag: Pilansberg, Desember 2019

deur Nobby Knox · 12 Jan 2020

Inleiding

Tradisie. Dis nie net 'n mooi woord nie, maar in sommige gevalle ook 'n goeie ding om te hê. Leonie en ek het so een wanneer dit by Kersfees kom in dat ons probeer om ietsie spesiaal vir die twee van ons te doen. Die jaar het ons dit amper nie gemaak nie. Amper nie... Hierdie kort trippie was vinnig en op redelike kort kennisgewing aan mekaar geslaan. Met die onsekerheid van Leonie se potensiële nuwe werk het ons terug gehou so lank as wat ons kon voordat ons besluit het om die sneller te trek.

Ons het ook gereken dat 'n rustige weg koms beter as 'n moeitevolle een sou wees, so met dit in gedagte het ons besluit om die tent by die huis te los vir meer standvastige akkommodasie.

Vir 'n kort tydjie het ons Marakele oorweeg, maar twee dinge het ons teen dit laat besluit. Die eerste is dat hulle nie meer renosters het nie. Wel, daar is dalk, maar hulle word so goed weg gesteek dat dit nie eintlik tel nie. In 2013 het ons fantastiese ondervindings daar gehad waar renosters tot naby aan ons gekom het. Die een aand het ek amper die tjops verbrand toe 'n ou bielie so naby aan die braai gekom het dat ek dit nie tot by die tjoppies kon waag nie. Die tweede rede was dat, volgens SANParks se website, daar verskriklik baie kampeer plekke beskikbaar was. Uit ondervinding weet ons dat dit redelik vol oor Kersfees is, so hierdie situasie het vir my gesê dat iets nie lekker is nie. Ek het ook nie veel belang gestel om uit te vind wat aan gaan nie. Die renoster kwessie was groot genoeg vir my om die plek oor te sien.

In 2016 het ons 'n onvergeetlike verblyf in 'n safari tent in die Manyane Oord in Pilansberg gehad. Dit, tesame met die buffet ontbyt, het ons oortuig om weer Pilansberg toe te gaan.

Maandag, 23 Desember

'n Goeie dag begin altyd met 'n goeie ontbyt, of dis die storie wat ek myself vertel. Piatto, 'n gunsteling van ons, was laat om oop te maak (ons was te vroeg), so Wimpy was ons tweede keuse. Van daar wou Leonie gou by Outdoor Warehouse in pop vir geheimsinnige redes. Haar vertel-teken stoute uitdrukking het haar weg gegee. Ek weet ook van beter om te veel uit te vra en het aan gebied om vir Nessie op te pas. 😉 Ons val toe rondom 11:00 in die pad.

R24 → R21 → N4 → R556 → R510 → Manyane

Rondom 14:00 kom ons toe by Manyane aan. Regs van die ontvangskantoor kon ons die kampeer terrein sien en dit het gewemel van die mense met hulle tente en karavane. Die inboek was baie maklik: hulle het net my van nodig gehad. Ook maar goed so, want ek het nie my bespreking geprint nie (doen my deel vir die natuur, of miskien het ek net vergeet om te print).

Safari tent #6 was ons s'n. Oops! Daar was 'n probleem. Daar was geen elektrisiteit nie. Die yskas, waarop ons staat gemaak het sou tot ons beskikking wees, was warm. Die waaier kon ons ook nie aan die roer kry nie. En selfs die ketel was ongeinteresseerd. 'n Vinnige ondersoek het my na 'n DB board so entjie van die tent gelei met vier getripte skakelaars wat geweier het om saam te werk. Daar was geen alternatief nie; ek moes terug ontvangs toe om hulle in kennis te stel. Gelukkig het die hitte my nog nie te erg by gekom nie, so ek was die vriendlikheid self toe ek my lot pleit.

Die oplossing vir ons krag probleem was toe heel eenvoudig. Ek gee die sleutel vir #6 terug en kry 'n ander een met die nommer 17 op. Meh, eenvoudig genoeg. Dit was wel teleurstellend dat hulle geen moeite gedoen het, in die tyd wat ons daar was, om die probleem te adresseer nie.

Kaart van Manyane Oord

Die tent was meer as voldoende. Met twee enkel beddens, yskas, waaier, ketel, asblik en nog 'n klompie goed het ons alles wat ons nodig gehad het. Die uitsig vanaf ons stoepie was ook lieflik. Geen mense voor ons te siene nie aangesien ons reg aan die buitekant van die kamp was. Net gras, bome, Impalas, Tarentale, Fisante, en dan die voëls: Woodlands Kingfisher, Piet-my-vrou en Whoopoo was volop asook die vaal bruin lot wat mens oral kry.

Ons het besluit om nie 'n ent in die park te gaan ry nie. Moeg, jy sien. Die area voor ons tent het gewemel met goetertjies so daar was baie om na te kyk en ons besig te hou. Daar was 'n groot aantal Impalas en Tarentale met hulle babatjies wat reg voor ons in die grassies gevreet en gespeel het. Twee Fisante het ook gereeld op en af gestap.

By die winkeltjie het ons twee sakke van hulle natste hout (ook bekend as hulle enigste hout) gaan koop. Nie dat ons geweet het dit was nat nie en ook nie dat die dame in die winkel ons daarvan vertel het nie. Wanneer ek sê "nat" dan bedoel ek nie dat dit 'n buitjie reën gesien het nie, maar dat dit nog groen, vog deurtrekte, hout was. In Februarie 2017, by 'n reënerige Matamba, was ek baie trots op myself toe ek in 'n ligte reëntjie vleis gebraai kon kry met hout wat ook nat gereën het. Hierdie stuff by Manyane kon ek nie aan die gang kry nie. Leonie, die "closet genius" wat sy is, stel toe voor dat ons charcoal gaan koop. Doh! Ek het nooit eers daaraan geding nie. Seker omdat ek so opgewerk was oor die verdomde nat hout.

Met charcoal in hand het ons een lam tjoppie (omdat ek nie kon tel nie), kerrie wors en braaibroodjies gebraai en Leonie het haar bekende bospotveggies op die gasstofie gemaak. Die skottelgoed, soos wat ons altyd in warm tye doen, het ons gelos vir die volgende oggend. Uitstel tot môre is beter as aksie nou. 😜

Na die braai het ek van die nat hout op die warm kole gegooi. Miskien uit nuuskierigheid, maar heel moontlik uit viesheid vir die nat rubbish. Dit het meer as 30 minute gevat vir 'n vlammetjie om op te spring en nog langer vir 'n kleinerige vuurtjie om te begin brand. Daar was geen manier wat mens daardie hout met blitz aan die gang sou kry nie. Leonie het 'n spesiale ietsie in haar figuurlike mou gehad wat sy in die vuur gegooi het wat spokerige blou vlamme gemaak het. Dit was betowerend.

Waarnemings vir 23 Desember

Dinsdag, 24 Desember

Na die tradisionele oggend roetine (stort en skottelgoed) het ons ontbyt by die restaurant gaan eet en van daar die park binne geval.

Die lekkerste ontbyt

Roetes van die 24ste

By Ratlhogo Hide het Weavers en Swaeltjies by die water gewerskaf. Ook twee of drie Seekoeie het in die dam gelê en sleg wees. Die parkeerarea by die hide is 'n entjie weg en mense klim in 'n nou gangetjie oor die dam se wal tot in die hide wat op die water staan.

Ons het 'n briljante dag op die pad gehad en het nie minder as 17 renosters tee gekom nie. Almal spek vet en gesond en toegerus het horings (geen voorhoedende afsny of stropery nie). Die aantal is besonders want (1) dis baie en (2) ons tent nommer was 17. 😃

Na 'n lang dag op die pad sit ons op ons stoepie met iets koud in die hand toe daar 'n gegil van redelik naby kom: "OUT! GET OUT!" skree 'n vrou. Ons bure, die twee vrouens in nommer 19, het seker in hulle tent gelê en uiltjies knyp, toe 'n groot ou bobbejaan, wat die heel dag al in die omgewing "loiter", iets in hulle tent probeer gaps het. Van wat ek van die gebeure aan mekaar kon sit het die vrouens taamlik gesukkel om van hom ontslae te raak. Die bobbejaan het glo nie op hulle voorstelle gereageer nie. 'n Buurman het ons op die dag van ons aankoms gewaarsku teen deure oop los en kos te laat rond lê. As iemand maar net vir die dames dieselfde raad kon gee...

Die aand braai ons toe vark tjops, een lam tjop (want ek kon gister nie tel nie), kaas wors saam met 'n wonderlike aartappelslaai wat Leonie vinnig vir ons aan mekaar gegooi het. Daar was ook 'n presentjie of twee wat hande geruil het.

Waarnemings vir 24 Desember

Woensdag, 25 Desember - Kersdag

Dis Kersfees! Hoera!

Ons het weer lui rustig aan die gang gekom met 'n gerusstellende koppie koffie in die hand. Leonie het vir ons 'n Kersboodskappie gemaak en uit gestuur van die natuur se "Kersliggies" waarop ons gisteraand af gekom het (per ongeluk) toe ons 'n flits onder die boom geskyn het. Die liggies draai toe uit om klein wurmpies te wees wat aan sy draadjies van absoluut orals gehang het. Dis amper asof iemand moeite gedoen het om die wurmpies presies op gesig hoogte op te hang. Dit maak toe vir mooi fotos, maar minder mooi hare en klere bykomstighede. Ons het elk 'n kop en gesig vol wurms gekry elke keer wat ons kar of vuur toe gegaan het.

Roetes vir die 25ste

Na 'n stewige ontbyt val ons toe weer die park in. Die diere was bietjie skaam, seker omdat hulle die dag af gevat het. Ons was by Mankwe Dam en hide gewees en toe weswaarts na Makorwane Dam. Van daar terug kamp toe via Tlou Drive en later, Nkwe en Tilodi Loop, waar ons weer die olifante tee geloop het. Dit het gelyk asof hulle stadig noordwaarts geskuif het waar 'n mense hulle maklik met die regterkantste paadjie vanuit die kamp kon bereik. Ons het 'n nota gemaak om presies dit later die middag te doen.

Ons het gedurende ontbyt by die restaurant gehoor dat hulle 'n Kers roast buffet vir middagete gaan bedien. Ons is nie bekend as mense wat 'n goeie roast ongeeet laat staan nie, so toe maak ons so teen 2 uur ons pad na die etery. Daar was 'n verskeidenheid kos gewees, veggies en slaaie vir Africa en drie verskillende roasts: gammon, impala, en kalkoen. Ek het 'n bietjie meer van die roasts verwag. Die gammon was okay, maar die ander twee was droog en hard. Leonie kon skaars haar kalkoen drumstick gekou kry. Die sous het gelukkig my porsie gered.

Dit was gedurende die tweehandige smul aan ons heerlike (op balans) Kersete wat daar 'n paartjie hulle pad na die etery gemaak het. Beide het lang denims en toe skoene gedra, hy 'n t-hemp en sy 'n nommertjie wat hoog vasgemaak is om haar middel te wys. Dis belangrik om te weet dat teen die tyd dit 34°C - 35°C was. Die sweet het lang nat paadjies teen my af geloop en my hemp het ongemaklik aan my nat skouers vas gesit. Die lang denims het dus vir my uit gestaan en gewys op buitelandse toeriste was sopas uit hulle kar geklim het, vars van die lughawe af.

Na middagete, wat ons afgerond het met 'n bakkie roomys wat teen die spoed van wit lig besig was om te smelt, het ons weer van ons stoepie se gasvryheid gebruik gemaak. Die plan was om die laaste twee ure, voordat die hek toemaak, in die park te verkeer. Ons wou weer vir die trop olifante gaan kuier. Dit was toe dat daardie paartjie van middagete weer hulle verskyning gemaak het en by nommer 16 (skuins agter ons) in getrek het. Meer hieroor later.

Net na 5 uur val ons weer in die pad en kry die olifante seker so 2km van die hek af. Dit was 'n redelike groot trop met omtrent 30 of meer lede wat aan beide kante van die pad aan die nibble was. Voor ons in sy wit karretjie was 'n totale d**s wat buitekant sy bestuur kant se deur gestaan het en fotos met sy foon oor die dak van sy kar geneem het. Volgens die reëls, wat agter op die permit geprint is, is dit 'n oortreding volgens seksie 21 om enige deel van jou liggaam buite jou voertuig te hê. Daar is 'n sterk vermoede dat hierdie persoon nie die reëls gelees het nie. Dit was ook nie veel van 'n verrassing toe 'n ollie 'n bietjie van 'n tantrum gegooi het en sy ontevredenheid met die knaap gewys het deur hom so halfhartig te storm nie. Dit het hom vinnig genoeg terug in sy karretjie gesit.

Dit het ons 'n tydjie gevat om 'n opening te kry om verby die trop te kom en ons ry toe weer in die rigting van Malatse Dam waar ons nog renosters tee gekom het. Teen die tyd het dit begin laat word en ons besluit om terug te draai. Met 40 minute voor die hek toemaak stop 'n aankomende kar ons en vertel dat die trop olifante die pad nou heeltemal blok en aggressief begin raak. Die man sê dat hy geen manier verby hulle kan sien nie en dat hy die ver pad om gaan ry. Dit was nog vars in my geheue hoe ons vroeër gesukkel het om verby hulle te kom en dit het my besluit maklik gemaak: draai om en ry die lang pad terug.

40km/h klink nie vinnig nie, maar op daai grondpad kon ek nie altyd daarby hou nie en Nessie het een of twee stewige stampe gekry op pad terug, maar niks wat hy nie kon hanteer nie. Ons het besluit om darem net die park kantoor te bel en te verduidelik wat gebeur het sodat hulle sou weet om ons laat te verwag. Ons het die lang pad gemaak en was slegs 10 minute laat. Alles was toe en op gepak by die hek, maar 'n vrou het wel uit gekom en vir ons die sy hek oop gemaak. Ek wou nog verduidelik hoekom ons laat was, maar sy was baie vriendelik en het ons net deur gewuif. Gelukkig was ons nie die enigste laatkommers nie. Ek weet van twee ander karre wat na ons deur die hek was.

Die aand het ons klein geeet. 'n Malva poeding op die vuur warem gemaak en met heerlike vanilla vlae. Ek was poot uit en het vroeg in die bed beklim. Leonie het vir 'n tydjie langer die fort buite gehou. So half deur die slaap het ek stemme gehoor. Kwaai, harde stemme. Dis toe daai paartjie van middagete wat skuins agter ons bly wat 'n vreeslike rusie in Italiaans aan gegaan het. Hulle het vir 'n hele klompie minute so aan gegaan en Leonie vertel my dat sy seker was dat iets op 'n stadium gegooi was. Met die hitte, humiditeit, paddas, en wurms wat van elke ding af op gesig hoogte gehang het, is dit maklik om te verstaan dat 'n mense met al die ongemak maklik omgekrap kan word. Ek vermoed dis wat met die paartjie gebeur het.

Afr: Rietkormorant, Eng: Reed Cormorant · foto deur Leonie

Die wit kolletjies wat in die lug dryf is klein wurmpies wat aan sy draadjies hang en die lewe vir 'n mens, erm... interessant maak. Ons het gou geleer om met toe monde hier te loop.

Waarnemings vir 25 Desember

Donderdag, 26 Desember

Donderweer in die verte tesame met 'n welkome reën buitjie het my uit my slaap wakker gemaak. Ek was vol hoop dat die dag koeler en natter as die vorige dag sou wees, maar toe nie. Die dag was a "copy/paste" van gister, behalwe vir die stukkie in die begin.

Roetes van die 26ste

Die eerste wild kry ons 50 meter van die hek by die draai na regs op die Dithabaneng pad. Die olifant moes sekerlik deel van die trop van gisteraand gewees het wat ons die lang pad huis toe laat ry het. Hy het geen indikasie gegee dat hy ons erken nie, ook geen stoute smirk op sy gesig nie. Okay, fine. Geen slegte gevoelens dan nie.

By Malatse Dam kom ons op 'n wonderlike toneel af van vier olifante wat soos tieners in die dam speel. Hulle het mekaar rond gestamp, op mekaar geklim en onder water geduik. Dit het baie lekker gelyk en Leonie moes my net keer of ek het by hulle aangesluit. 😉

Aan die anderkant van die dam, by die hide, was daar vyf of meer Waterbokke ("Kring gatte" soos my pa hulle noem) wat gewy en nou en dan vir fotos gepronk het. Die klompie Seekoeie in die water het glad nie belang gestel om hulle goeie kante voor te sit nie. Dit was met die inklim in die kar wat Leonie vir my gevra het of ek die waterbottels in gepak het. Oops! Nee, ek het nie. Ons onmiddelike gedagtes was as volg:

"Goeie genade! Ek was 'n oomblik terug nie dors nie, maar nou skielik is my keel so droog soos die warm sand hier buite!!"

~ Leonie

"Ons het dalk nog 5 minute voordat ons begin swak word en sterf. Miskien kan ons 'n fisant vang en sy water uit druk vir nog 'n minuut van lewe."

~ Nobby

Die werklikheid was dat ons ons reisplan net effens aangepas het sodat ons weswaarts na Korwe Link gery het, toe noordwaarts gedraai het en dan suid op Kgabo tot by die tee kamer (Pilansberg Centre) waar ons van die lewegewende sap gekoop het.

Vol van water en die wete dat dit nog nie ons tyd is nie, het ons verder suidwaarts na Mankwe Dam gegaan waar ons die gewone groep diere en voëls gesien het. Dit was dalk my verbeelding, maar die troppe Zebras, Blou Wildebeeste, en Impalas se nommers het groter as die vorige dae gelyk. Ook 'n besondere waarneming was 'n African Wattled Lapwing.

Dit was rondom hierdie tyd dat Leonie begin kla het oor nat voete. My eerste reaksie was om te se dat sy net bietjie langer moet knyp, maar dit word toe gou duidelik dat dit Nessie was wat begin dribble het en nie Leonie nie. Wat presies fout gegaan het weet ons nie, maar ons vermoed dat iets gistermiddag los geskud het.

Van Mankwe Dam ry ons toe suidwaarts met Kubu en draai links op Mankwe Way tot by die Fish Eagle picnic spot waar ons van nou die dag se oorskiet kaaswors en aartappelslaai gehad het saam met druiwe en die helfte van 'n klein krismiskoek. Op die punt was dit redelik warm en gereeld het 'n druppel sweet in 'n klein stroompie verander wat van my nek tot my pens gehardloop het. Die skadu was baie poreus en ons het nie te lank gepiekniek nie.

Terug in die pad het ons sommer gou-gou op twee renosters af gekom en 'n ent verder loop ons 'n kudde olifante van ± 40 lede raak. Ons bevind onsself toe in dieselfde situasie as op Kersdag waar ons net nie verby kon kom nie. Ons was die derde kar in 'n konvooi van geduldige karre wat nou en dan vorentoe gekruip het soos die ollies aan beweeg het. Dit was seker 'n uur voordat ons verby hulle kon kom en ons pad verder ooswaarts kon maak na die Nkakane pad toe.

Daar is 'n waarskuwing op die permit wat mense afraai om die Nkakane pad te ry omdat dit glo sleg is. Ek kon aanvanklik nie die pad en die waarskuwing by mekaar bring nie, maar toe ek die pad oppervlak sien weg raak toe kliek dit eers by my. Vir 'n kort oomblikkie het ons gewonder of ons moet omdraai, maar Nessie herinner ons toe dat hy hierdie tiepe pad vir 'n snack eet tussen ontbyt en lunch. Die paadjie was net nou en dan slegter as daai aaklige teerpad suid vanuit Bakgatla kamp. Die pad het vinnig een van my gunstelinge geword oor die op en af ryery tussen die groen koppies. Dit was ook op die paadjie wat ons die grootste trop Koedoes tot dusver gesien het.

Net voordat ons by die hek gekom het kry ons toe as 'n bonus 'n Burchell's Coucal (Afr: Gewone vlei loerie) met 'n muis in die bek in 'n lae boompie. Dis nou iets wat jy nie aldag sien nie.

Ons het 'n goeie dag op die pad gehad (van 09:30 tot 17:00) en die aand het ons drie stukkies onbekende, maar graatlose vis op die vuur gebraai. Ek is nie 'n groot viseter nie, maar daai vissies was heerlik gewees.

Gewone vlei loerie (Eng: Burchell's Coucal) met muis in die bek · foto deur Leonie

Die braai mat was 'n geskenk van John en Shell en het my verwagtinge ver oorskry

Waarnemings vir 26 Desember

Vrydag, 27 Desember

Met die hitte deur die nag en jeukende bytplekke al oor my lyf, het ek nie die lekkerste aand gehad nie. Ek het ook met 'n kopseer opgestaan wat nou nie was hoe ek die dag wou begin nie.

"Pilansberg is 'n mini Kruger"

~ Nobby

Met 'n koppie koffie en Rooibos cappuccino in die hande kyk ons hoe 'n familie muishonde skuins voor ons tent speel. Met hierdie spelery in ons periferie, praat ek en Leonie oor ons tyd hier by Pilansberg en stem saam dat dit 'n goeie weg kom bestemming is vir twee tot vier dae. Naby genoeg aan Johannesburg sodat die ry 'n mense nie afsit nie en die natuur en dierelewe is mooi en volop. Ons sal definitief weer kom kuier.

Manyane → R510 → R556 → Hartebeespoort → R511 → N1 → N3 → tuis

__fin__