Rit Verslag: Nasionale Krugerwildtuin, Februarie 2020
Oorsig
- Vier mense op ons avontuur: ek, my vrou en my ouers. O, en Nessie, ons betroubare beige bepakte bos bok.
- 15 Februarie: Vertrek vanaf Johannesburg, via Phalaborwa hek, na Shingwedzi kamp
- Vier aande by Shingwedzi (15 - 18 Februarie)
- Vier aande by Balule (19 - 22 Februarie)
- 23 Februarie: Verlaat die Kruger, via die Phalaborwa hek en Magoebaskloof, vir Johannesburg
Inhoudsopgawe
- Inleiding
- Saterdag, 15 Februarie
- Sondag, 16 Februarie
- Maandag, 17 Februarie
- Dinsdag, 18 Februarie
- Woensdag, 19 Februarie
- Donderdag, 20 Februarie
- Vrydag, 21 Februarie
- Saterdag, 22 Februarie
- Sondag, 23 Februarie
- Afsluiting
Inleiding
Heupe en Rûe
Af heupe en rûe was die redes dat ons hierdie keer nie gaan kamp het nie. My ouers sou andersins nie saam kon gaan nie. Ek maak ook 'n nota vir my oudag dat ek nog steeds die Kruger in gemak sal kan besoek, mits ek die regte akkommodasie kies vir die skete van die dag.
Vloede en Slegte Paaie
Baie reën en gevolglik slegte grond paaie was twee van die dinge wat ons vakansie bedreig het, maar ek spring by die diep kant in. Kom ons gaan eers twee maande terug, tot Desember 2019.
Rondom die 19de Desember praat ons oor hoe mooi die wildtuin gaan lyk met al die onlangse reën. Later, op die 11de Januarie het dit al genoegsaam gereën dat die Parke raad sommige van die grondpaaie begin toemaak het. Dis effens opwindend, want daar is 'n ligte aroma van gevaar in die lug en dis nog net 'n maand dan is ons self daar.
Teen die 10de Februarie raak dinge ernstig. Dis vyf dae voor ons vertrek en dit reën katte en honde. Ek monitor die amptelike Kruger Wildtuin se boodskappe op Twitter en raak by die dag meer bekommerd. Daar is foto's van riviere in vloed, paaie onder water, en helikopter skote van hele areas onder water. Balule, waar ons sou bly, is toe gemaak en onbereikbaar en Shingwedzi het alle telefoon kommunikasie verloor. Op hierdie punt is alle grondpaaie toe gemaak en ons verblyf by Balule is in gedrang. Ten spyte van als, was daar steeds 'n onderliggende gevoel van opwinding. 😉
Ons was nie seker wat om te doen nie. Kanselleer ons die besprekings of skuif dit na 'n ander tyd? Byt ons vas en kyk wat gebeur en maak nader aan die tyd 'n besluit? Gelukkig het ons almal saam gestem: die wegkom kans beteken te veel vir ons om dit net verby te laat gaan. Selfs op ons ouderdomme voel ons dat ons maklik genoeg by die veranderlike situasies kan aan pas. Ons is ook almal reg vir 'n avontuur en die vet alleen weet, die natuur is besig om vir ons een voor te berei. Ons finale besluit, enkele dae voor ons vertrek, was as volg. Kyk hoe lyk dinge wanneer ons daar aan kom. As Balule kamp nog toe is, dan boek ons akkommodasie by 'n ander kamp. Satara het baie plek beskikbaar (ek het gekyk), so ons was reg vir watter klip ons ook al in die pad sou kry.
Saterdag, 15 Februarie
Vyf uur die oggend (of net 'n knerpsie daarna) spring ons in die pad en maak rustig vordering tot by Lydenburg, waar ons 'n vinnige pit stop maak. Daar was padwerke in die middel van die dorpie wat ons keuse van stop plek beperk het. Die garage waar ons wiele ophou draai het het ook een van daai snaakse draaihekke gehad waar jy 'n R2 stuk moes in gooi om na die toilette deur gelaat te word. Dis te se as jy gelukkig was om so 'n muntstuk in jou besit te hè. Wel, ons was nie, so dit was eers winkel toe met almal. Hierdie draaihekke sien ek eintlik net op my ritte en ek is altyd onvoorbereid as ek so iets tee kom. Die vreemdste ondervinding so ver was in 2016 toe ek en Leonie in Pongola 'n draai wou gaan loop by 'n klein winkelsentrum waar ons gestop het. Net in die gangetjie in kry ons toe ook so 'n draaihek met 'n persoon aan diens by 'n tafeltjie by die hek waar ons moes betaal om in te gaan. Deel van die toilet pakket het 'n klompie voutjies toilet papier ingesluit. Daai dag het ek besef dat ek te min uit kom. 😜
Teen 11:30 kom ons by die Phalaborwa hek aan en finaliseer redelik gou al die papierwerk. Op pad kar toe sien ek 'n vrou wat besig was om uit haar nate te bars van opgewondenheid. Haar oog vang myne (daar was nêrens in die parkeer area om weg te kruip nie) en sy kom nader gehuppel. Sy vertel van 'n pak wilde honde wat sy 'n rukkie vroeër gesien het en gee vir my die besonderhede van waar sy seker was ek hulle nog steeds sou kry. Al te dankbaar vir die brokkie waardevolle inligting, bedank ek haar en kort daarna gaan ons die park binne. Ons is hier! 🐘
By die afdraai na die H1-4, waar ons noord moes draai, besluit ons om die vrou se advies te volg en nog 2km aan te ry tot waar sy gesê het ons die wilde honde kon kry. Gewoonlik wanneer mense jou van sightings vertel skat hulle die afstand of baie ver verkeerd, of dis-nie-eers-op-die-kaart-nie verkeerd. Hierdie geval was anders: die vrou se skatting was tot op die millimeter akkuraat (dis 'n eerste vir my). Vir een of ander rede het ek ook gedink dat ons die honde maklik raak sou sien, maar ek het hulle amper gemis daar waar hulle almal in die koelte van die Mopani bosse gele het. Dit was warm gewees, soos ons self later sou uit vind. Man, was dit nou 'n goeie sighting om ons besoek aan die Kruger te begin.
Rondom 16:30 bereik ons Shingwedzi en kry die sleutels van hutte B57 (ek en Leonie) en B58 (die ouers). Dit was 'n lang dag op die pad, en ons is net te bly om ons bestemming te bereik. Dis vrek warm! Die sweet tap ons af en Nessie kwyl soos 'n warm St. Bernard (die lugverkoeler lek nog van die harde ry in Pilansberg in Desember). As of dit nie erg genoeg was nie, was ons hutte selfs warmer binne gewees. Eers het ons gedink dalk is dit omdat die vensters toe was, maar deur die loop van die middag en aand sou ons uit vind dat dit absoluut geen verskil gemaak het nie. Die plekkie bly 'n oond binne. 🥵
Na die af pak en bietjie rus ry ons na die winkeltjie toe en van daar gaan ons na die agterste hek om te kyk of ons die laewater bruggie kon sien. Die hek was oop en ons ry toe deur, net om gestop te word na ons draai na links deur takke wat oor die pad getrek was. Die bruggie was onlangs nog onder water en was nog nie oop vir besigheid nie. Ons draai toe om en BOEM! Die hek is gesluit. Wat nou?
Na 'n rukkie kom 'n man uit en vertel ons dat die kamp toe is en dat ons moet om ry om by die hoof hek in te gaan. Daai draai was iets soos 9km. Met geen alternatief tot ons beskikking nie, draf Nessie gou die lang draai en ons kom stert tussen die bene by die geslote hoofhek aan.
Die man by die hek het met oor gedramatiseerde gebare van iemand wat bitter teleurgesteld in sy medemens, ons nader gewuif. In die kwaai skemer en in Nessie se kopligte kon ons sien hoe hy sy kop skud, voete sleep en baie stadig beweeg om vir ons die hek oop te maak. Na 'n goeie preek van die man en vele kere se om verskoning vra van my kant af, laat hy ons toe gaan. Ek sou met graagte 'n boete betaal het as daar een was, aangesien ek my nie van die hek tye vergewis het nie. Gelukkig was die preek ons enigste straf. Ons het 'n nota gemaak dat ons die volgende aand met baie tyd op die horlosie die kamp sou binne gaan, om vir die man te wys ons is goeie mense. 😉
Die aand braai ons van pa se heerlike verouderde skaap tjops, wors, en Leonie maak haar wêreldbekende gebraaide groente. Maar dis warm en die hitte tap ons almal se energie. Ons is nat van die sweet en dood op ons voete. Hoe my ma dit dan reg gekry het om kort-kort op te spring en te kwets vir iets met vlerke wat naby haar gevlieg het weet ek nie. Miskien was haar vrees vir sprinkane en motte groter as enigiets anders op daai oomblik. Hierdie was ook dan ons eerste kennismaking met die insek lewe wat ons vir die res van ons verblyf in die Kruger sou vermaak. En met vermaak bedoel ek natuurlik, terroriseer. 😁
Na ete groet die ouers en ek en Leonie verkas na die gemeenskaplike badkamers toe om te gaan stort. Die koue water (so koud as wat ek dit kon kry) het net 'n verskil begin maak toe die krag af gaan en my in pik donker onder 'n heerlike louwarm stroom water laat. As 'n ou storter weet ek hoe seep werk so kon redelik goed in die donker reg kom. 'n Klompie minute later kom die krag weer aan. Daar was sprake dat dit load shedding was, met 'n vertraging om die kragopwekker aan die loop te kry.
Die dag het in geheel redelik goed afgeloop. Die slegte slaggate na Lydenburg is iets wat ek in die toekoms sal wil vermy. Ons skatting om 16:00 by Shingwedzi aan te kom was ook redelik akkuraat en ons het dit net met omtrent 30 minute gemis. Die tyd wat ons met die wilde honde spandeer het is dalk die rede hiervoor. Die hitte vang mens onverwags en die eerste twee dae is vir my gewoonlik die ergste. Daarna vind ek dat dat die hitte nie meer die enigste ding in my gedagtes is nie.
Hoogtepunte vir 15 Februarie
- Olifant so entjie na die ingang
- 6+ wilde honde 2km na die H1-4 afdraai
- Steenbokkie
- LBJ (little brown jobbie) wat iewers vir ons sit en sing
- Zebras
- Waterbokke
- Blou wildebeeste
- Vlakvarke
- Kameelperde
Sondag, 16 Februarie
Oggende in die bos is altyd die beste. Dis koel en sonop bring altyd nuwe hoop na 'n mens se gemoed. Oor ontbyt, wat bestaan het uit koffie, ma se alom bekende gemmerkoekies en cheese-straws beskuitjies, praat ons oor die vorige dag se gebeure, die aand se marteling, en hoe bly ons is om hier te wees ten spyte van dit alles.
Dit was ondraagbaar warm gisteraand in die hut. Daar was geen wegkom of verligting van die hitte nie. Die beste wat ek kon doen was om nou en dan om te draai sodat 'n ander deel van my op die nat matras lê. Ek dink ek was droër in gisteraand se stort gewees. Snaaks genoeg, het ek en Leonie 'n heerlike nagrus gehad na 'n lang gespook om aan die slaap te raak.
Ons is mos nie dom mense nie, reg? So kom ons doen iets aan ons verknorsing. Ek maak die voorstel dat ons met die mense by ontvangs gaan praat en hoor of ons kan skuif na enigiets met 'n lugreelaar toe. 'n Klompie minute later... Ta da! Na 'n produktiewe gesprek met die vriendelike mense by ontvangs, stap Leonie en ek terug na ons huisies toe met twee nuwe sleutels. Vanaand, is daar verligting!
Ons nuwe huis nommers was nogal betekenisvol: B46 en B47. Dis cool, want oor twee dae verander my ouderdom van 46 na 47.
Teen 10:00 die oggend is ons klaar getrek en by die agterhek uit waar ons moeilikheid van die vorige aand begin het. Ons ry suid-ooswaarts op die S50 en sien geen tekens van die onlangse reën en oorstromings nie. Die rivier lyk wel of hy wyer lê en die getalle ryers, ooievare, en woodland kingfishers wat orals te sien en hore is maak op vir die feit dat ons nie leeus onder elke boom sien nie.
Suidwaarts verken vir die dag, keer ons na 13:00 se kant terug kamp toe om 'n bietjie te rus. Dis warm, ons is moeg, en ons kele smag na iets koud om te drink.
Vir die middag uitstappie besluit ons om ons ou gunsteling, Babalala, te besoek. Die piekniek plek het 'n spesiale plekkie in ons harte, seker omdat dit die eerste piekniek plek was waar ek en my ouers ooit in die Kruger gepiekniek het. Die feit dat dit lieflik en ver afgeleë is dra ook by tot sy aantreklikheid vir ons. Ons wou noordwaarts met die S56 gery het, maar die onderste gedeelte was gesluit as gevolg van water skade. Ons kon eers met die kort afdraai paadjie na die teer pad die grondpad bekom. Somtyds gebeur dinge net vir 'n rede. Nie net is die paadjie goed nie, maar die bos is gras groen en gesond. Leonie het 'n klompie "super vivid" foto's van die area geneem om te beaam hoe mooi die kleure lyk.
Dit was op die S56, 4km suid van Babalala, wat ons ons eerste groot sighting gekry het. 'n Gevlekte hiëna redelik diep in die bos aan ons regterkant het in die skadu van 'n boom gelê. Dit was moeilik om 'n goeie skoot van die perd te kry, en in die vorentoe en agtertoe gil Leonie "luiperd!". Een van die moeilikste diere om in die wild raak te loop, en hier kry ons hom sommer op dag twee. Die perd het ook soos die hiëna op die grond in die skadu van die boom gelê, met oop bek, al smagtend in die hitte van die middag. Die twee het ± 50 - 100 meter van mekaar gelê. Ek wonder of hulle van mekaar bewus was? Miskien het hulle 'n koppie "cease fire" geniet.
Daardie aand het die sprinkane, wat deur die lig aangetrek was, aan gehou om vir my ma te treiter. Dit was ongelukkig nie al besoekers op die stoepie nie. 'n Reuse roman spinnekop het ook 'n "lap" op die stoep kom doen en 'n redelike bohaai in die proses veroorsaak. Op een punt het die ding selfs op die muurtjie geklim en my in die oë gekyk. Ek het maar net 'n tree terug gegee en so uit gevaar gebly. 'n Taktiese riterasie, jy verstaan.
Net toe ons dink dat die opwinding op die stoepie verby is kom daar 'n ratel verby gewandel. My pa het op 'n stoel langs die vuur gesit terwyl die res van ons op die stoep was. "Ratels het 'n slegte reputasie", was my eerste gedagte, en dit het my vir 'n kort tyd baie angstig gehad. Ek het 'n bloeddorstige monster verwag wat my pa net daar en dan sou aanval en op eet. Wat gebeur het was bietjie van 'n teleurstelling asook 'n groot verligting: die ratel het reg by pa se voete verby gestap en in die donker in die rigting van ons bure aan ons regterkant verdwyn. So asof dit die mees alledaagse ding was om te doen. Wel, dit was vir die ratel seker niks anders as kos soek nie. Ek twyfel regtig of ratel bendes die kampe terroriseer en toeriste die nag in jaag.
Die dag was warm, maar baie lekker. Op meer as een geleentheid het my ma genoem dat daar 'n lieflike reuk in die lug was. Ek is geen kat in die neus departement nie, maar het my verbeel dat ek hier en dan 'n soet reuk kon uitken. Dit was duidelik een of ander plant, maar ons kon nie bepaal watter een nie.
Ons het ook goeie sightings gehad en Babalala, veral die rit daarheen, was definitief die moeite werd op die geleentheid en moeder natuur het haar beste voet voor gesit aangaande die groene en bruine van die bos. Miskien is dit een van die redes dat ek so daarvan hou om op hierdie ongelooflike warm tyd van die jaar Kruger toe te gaan. Dan is daar ook die voordeel dat die voëllewe die tyd van die jaar op sy beste is.
Hoogtepunte vir 16 Februarie
Oggend Rit
- Hamerkop
- Waterbokke
- Yellow-billed hornbill
- Grey heron
- Yellow-billed stork
- Saddle-billed stork
- Egyptian geese
- Impala
- Krokodil
- Hippo
- Blue-cheeked bee-eater
- White-fronted bee-eater
- Nyala
Middag Rit
- Buffel
- Olifante
- Hiëna
- Luiperd
- Koedoe
- Gompou
- Skilpaaie
- Arend
- Volstruis
- Visarend naby hek van kamp
- Ratel in kamp reg by ons voete verby
Maandag, 17 Februarie
Wat is dit met my en die aande? Gisteraand, vir die tweede aand in 'n ry, was ek dood moeg reg nadat ons gebraai en geëet het. Ek kon skaars regop staan en my Schnapps klaar maak, dan praat ons nie eers oor skottelgoed was nie. Kon dit die hitte gewees het? Ek weet darem nie.
Vroeg die oggend sit ek op die stoepie en notas maak terwyl die gas stofie die ketel wakker maak en die ander drie nog lê en slaap. Daardie klompie minute voordat meeste mense wakker word is darem die lekkerste, stilste tyd van die dag. Die voëls sing, die apies beweeg van een deel van die kamp na die ander en aas soos hulle aan gaan. Reg voor die stoep het 'n apie 'n sprinkaan gevang, sy beentjies af getrek, en met beide hande gevat en groot stukke met sy kiestande af gebyt.
Teen 9 uur (wat baie laat is volgens die bos horlosie) val ons in die pad en gaan maak 'n draai by die Confluence uitkykpunt so 3 km buite die kamp. Met die riviere wat bietjie voller as gewoonlik was, kon ons die twee riviere wat daar bymekaar kom vir die eerste keer sien in mekaar vloei. Gewoonlik is dit net twee droë rivierbeddings wat daar, erm... lê. Net vir duidelikheid: volgens die Kruger kaart boek wat ek het se hulle dat daar drie riviere in mekaar loop, namens die Shingwedzi, Mphongolo en Mandzemba riviere.
Na 'n op en af rond ryery in die Red Rocks omgewing, stop ons vir 'n pit stop by Tshanga uitkykpunt. Die badkamertjie het beslis beter dae gesien, maar die bruikbaarheid van die geriewe het direk verband gehou met die drukking van die nood.
Met die rond stanery terwyl almal die uitsig en hulle beurt in die 'geriewe' afwag, kom 'n likkewaan in ons rigting aan gedraf. Eers het ek gedink hy storm ons, maar soos 'n opgewonde hond, het hy net kom kyk wat aan gaan en sekerlik vir iets gesoek om te eet. Ek neem aan baie mense sou hom voer, en na 'n kwaai kyk van my vrou, besluit ek om net 'n bietjie water vir die perd aan te bied. Ek het aan geneem hy was dors want dit was (nog steeds) 🌡 (baie warm). Soos wat ek die water in dammetjies gegooi het, het die likkewaan gedrink. Die kennisgewings waarsku jou altyd om nie die diere en voëls te voer nie. Nêrens se hulle iets van water gee nie. 😉
Soos altyd, het ek weer by Red Rocks verdwaal, maar die keer goed genoeg om glad nie die uitsig punt te kry nie. Ons het wel lieflike stroompies gekruis met hamerkoppe, ooievare, en reiers wat daar vis gevang het.
Hoogtepunte vir 17 Februarie
- Zebras
- Hamerkop
- Krokodille
- Amper een visarend
- Vlak varkies
- Green Wood hoopoe (Afr: Rooibekkakelaar)
- Hornbills
- Koedoe
- Steenbok
- Arend, dalk Bruin slang arend
- Yellow-billed stork
- Een of ander grys bok
- Dwarf mongoose
- Waterbokke
- Likkewaan by Tshanga uitkykpunt
Dinsdag, 18 Februarie
Vandag is verjaarsdag dag en die mense het my lekker bederf. Dankie julle.
Net na 6:30 val ons in die pad en vat die teerpad noord na Babalala waar ons 'n pit stop maak en sien wat te siene was. Van daar noordwaarts tot by die S63 waar ons regs gedraai het tot by die Pafuri piekniek plek, wat sekerlik die mooiste van al die Kruger se piekniek plekke is. Die reuse groot bome, gras groen, erm... gras, met die Limpopo rivier reg langs jou tafeltjie, tesame met die wete dat jy redelik ver van die groot groepe besoekers is, is van die eienskappe wat hierdie plek vir my wonderlik maak. Die voëllewe is volop en ons sien gereeld bokkies wat in die gras rondom ons wei. Op 'n vorige geleentheid was ons gelukkig genoeg gewees om 'n olifant tee te loop wat agter die karre verby gestap het.
Na middagete het ons nog ooswaarts gery tot by Crooks Corner. Behalwe vir die mooi uitsig oor die Limpopo rivier waar jy Zimbabwe en Mosambiek aan die oorkantste oewer kan sien, is daar nie veel wat aan gaan nie en op hierdie geleentheid was daar selfs minder. Die rivier het sy banke oorstroom met die onlangse swaar reën en het 'n stuk van die uitkyk area weg gespoel (daarom is daar minder om te sien, jy verstaan 😜). Dit was duidelik dat dit onlangs gebeur het omdat iemand doring boom takkie aan die kant van die wal gepak het waar 'n gedeelte van die hout reëling stroom af gedryf het.
'n Kort entjie nadat ons op die teerpad gedraai het suidwaarts vanaf die S63 kom ons die aardigste toneel tee. 'n Man staan langs die pad, geen hemp, en lyk heel verwilderd. Eers kon ek nie sin van dit alles maak nie. Veld wagters dra tog hemde, so ook doen verkeerspolisie. Dinge word toe duideliker toe ek die man se kar sien wat tot dusver vir my 'n onbelangrike item in hierdie toneel was. Die kar lê op sy dak. 'n Ongeluk! Dis wat gebeur het en moes enkele oomblikke voor ons aankoms plaas gevind het. Ek het nog gedink aan waar ek sou aftrek en Nessie parkeer, toe 'n polisie bakkie wat agter ons gery het met die woorde "border control" op die deur, na regs aftrek om hulp te verleen.
Ons sien die laaste klompie dae die pienk gin botteltjies wat by Shingwedzi se winkeltjie te koop is en, as iemand wat nog nooit gin gehad het nie, vermeerder my nuuskierig met elke besoek. Ek wonder of iets wat so mooi roos pienk is nie ook heerlik moet smaak nie. Hierdie nuuskierighied lei tot dat Leonie vir ons 'n gin & tonic by die restaurant gaan kry sodat ons kan sien waaroor al die bohaai is, terwyl ons bietjie rus en probeer af koel van die hitte van die rit terug kamp toe. Dit draai toe uit dat mens 'n redelike pruim bestande mond nodig het om dit te geniet. Maar, met genoeg oefening dink ek dat hierdie 'n drankie is waaraan ek gewoond kan raak. 😉
Die aand eet ons lekker. Die vark nek wat my pa by die huis ge-roast het en wat die heel middag al ontdooi, is op die spyskaart, tesame met 'n aartappelslaai waarvan ons die aartappels op die klein butaan stofie gekook het. Soos ons vir die aartappels gewag het om gaar te word, het die donkerte om ons neer gesak. Saam met die donker kom die ses voetiges en ons doen toe die enigste ding wat ons kon om die sprinkane uit die pot te hou: skuif die hele operasie na binne. Die koel lug van die lugverkoeler was 'n baie welkome bonus en ons het die res van die aand in beknopte gemak verkeer en soos konings geëet. In geval jy oor die vark wonder: dit was yum yum yummy gewees! 🐖
Hoogtepunte vir 18 Februarie
Na Pafuri
- Aasvoël reg by kamp uit
- Bateleur (berg haan) of Bruin slang arend
- Blouvalk
- Visarend
- Bee-eaters
- Mongoose
- Twee jakkalse
- Olifante
- Grey heron
- Jong bruin slang arend
- Woolly-necked stork
- European roller
- Lilac-breasted roller
- Grey hornbill
- Harrier / Kite?
- Swanson spurfowl in boom
- Natal francolin
- Koedoes
- Saddle-billed stork
- Namaqua dove
- Baby terrapin
- Nyala
Terug Kamp Toe
- Pied kingfisher
- Seekoei
- Nyalas
- Martial Eagle
- Motor ongeluk net na afdraai van Pafuri na Shingwedzi
- Olifante
- Elande
- Steen bokkie
- Kuifkop houtkapper
Woensdag, 19 Februarie
Die vroeg oggend kon beswaarlik liefliker gewees het. Dis nie so warm en bedompig soos die vorige dae nie en donker wolke dreig om bietjie verligting te spoeg. Wanneer die "early birders" se storm na die hek eers verby is bly net die klanke van die bos agter: koer van die duiwe, kwaak van die hornbills en skril skree van die woodland kingfisher. Daar is natuurlik baie meer klanke, maar my uitkenning vernuf kom nie naby die van 'n ere veldwagter nie.
Vanoggend is ook dan die oggend wanneer ons ons goedjies pak en die lang pad suidwaarts na Balule maak waar ons die volgende vier aande gaan spandeer. Balule, soos Shingwedzi, het 'n besondere plekkie in my en my ouers te harte. Dit was die eerste twee kampe waar ons gebly het op ons eerste besoek saam in 2009. Daai was goeie herinneringe wat ons nou herleef, maar ook nuwes maak met die nuutste lid van ons familie, Leonie.
Ons stop vir koeldrank, eet goedjies en sit rond op die mooi meubels op die groot dek by Mopani kamp. Die plekkie is lieflik op gedollie van ons laaste besoek en kan dalk net die prys vat vir mooiste winkel/restaurant area in die Kruger. Die onderste dek, waar jy mooi oor die dam kan uit kyk, was toe vir herstelwerk. Met smeltende roomys in die hande maak ons ons pad na Nessie vir die volgende deel van ons rit na Letaba.
By Letaba kon ons nie 'n lekker koelte plekkie kry om middagete te geniet nie en besluit toe om by die dagbesoekers area te gaan soek. Dit draai toe uit om 'n wonderlike idee te wees. Daar is heelwat koelte, baie plek vir sit en eet asook kos maak. Die ding wat vir Leonie gevang het was die gesing van die voëls in die bome bo ons. Die klanke vanuit die bome is genoeg om 'n artikel net daaroor te skryf. Terwyl Leonie voëls met haar 500mm lens gaan skiet het, het die res ons van toebroodjies gemaak met die oorskiet vark nek roast van die vorige aand en dit wat in die mini bierglas Duitse mosterd oor gebly het. Yummy!
By Olifants Kamp het ons vinnig die inboek vir Balule probeer doen, maar ek moes my kop êrens anders gelos het want ek moes twee keer terug kar toe stap om papierwerk te kry wat nodig was vir die inboek. Net so na 16:00 kom ons by Balule aan, pak Nessie af en verken die plekkie. Die laaste keer wat ons hier was, was September 2017, toe my ouers en suster ons vergesel het. Op daardie geleentheid het ons langsaan in tente gebly. Die hutte was verbasend koeler binne as wat ek verwag het. Na die ondraagbare hitte van die eerste aand se hutte by Shingwedzi het ons dit oorweeg om Balule te skip en by Satara akkommodasie met lugverkoeler te vat. Ons het toe besluit om ten minste een aand by Balule deur te bring om te kyk of ons dit kan oorleef. Ek moet erken dat ek baie bly was dat ons dit gedoen het, want die plekkie is "magic", soos Johan altyd se, en ons het die heerlikste tyd ooit hier gehad. Die badkamers kon wel doen met 'n bietjie opknapwerk, maar alles het ten minste gewerk.
Gepraat van die badkamers. Leonie moes tot my ma se redding kom en 'n vlermuis uit die badkamer verwyder sodat die geriewe in vrede gebruik kon word. Leonie het met die opsigter oor die verdwaalde vlieënde muis gepraat en hy wou hê dat sy hom van kant moes maak. Dit was nie wat Leonie wou hoor nie en het 'n plekkie in 'n boom vir die vlermuis gekry en hom versigtig daar tuis gemaak.
Daardie aand het Leonie vir ons vuur gemaak en gebraai. Op die spyskaart was hoender sosaties, gevolg deur 'n malva poeding met vlae en later 'n druppel pienk gin & tonic. Teen die tyd het die natuur 'n wonderlike sononder toneel begin wys en Leonie het haar nie twee maal laat nooi het. Met kamera in die hand het sy agter die hut verdwyn en die wonderlike toneel vir ewig vas gevang.
Hoogtepunte vir 19 Februarie
Deel Een
- Olifante
- Duiker
- Rollers
- Natal Francolin
- Slang arend - N
- Ground Hornbill met slang gereg
- Apies
- Speg in kamp
Deel Twee
- Giant heron
- Egyptian geese
- Olifante
Deel Drie
- Klipspringers
- Seekoeie + krokodil in rivier onder Olifants kamp
Deel Vier
- Buffels
- Koedoe
- Plum-coloured starling by Balule
Donderdag, 20 Februarie
Ons is vroeg by die kamp weg en sien amper onmiddellik 'n Berghaan (Bateleur). Dis een van my gunsteling roofvoëls en altyd 'n spesiale geleentheid om een raak te loop (ry, in ons geval). Ongelukkig maak die swak lig van die vroegoggend nie goeie foto's moontlik nie, maar 'n sighting is 'n sighting en so ver gaan dit baie goed op daai front. Ons ry suidwaarts op die S90 en draai regs op die S89; een van ons gunsteling paadjies wanneer ons by Balule bly. Vanmore bederf hierdie paadjie ons ook baie met goeie sightings van gompoue en korhane.
'n Entjie af in die S89 sien iemand 'n Marabou stork in 'n boom aan ons regterkant en ons stop soos altyd om kiekies van die lelikste voël in die wêreld te kry. Met die dat ek Nessie vorentoe en agtertoe wikkel om takke en blare uit mense se foto's te kry, vang my oog iets voor in die pad. Vir 'n oomblik kon ek dit nie glo wat ek sien nie en my kop computertjie het vir 'n split sekonde gevries. Toe: LUIPERD! LUIPERD! ... MINI LUIPERD! So 50 of meer meter voor ons kruis 'n luiperd wyfie en haar kitten die pad. Wel, genoeg met die voël in die boom. Hier is katte en hulle tromp gewoonlik enigiets anders. Teen die tyd wat Nessie by die kruising gekom het, het die katte amper heeltemal in die lang gras verdwyn. Al wat oor was om te sien was die rug van die wyfie soos sy dieper in die gras weg geraak het.
Waar die S89 by die H1-4 aan sluit draai ons toe suidwaarts en kom op honderde zebras en impala af wat rustig rond staan en eet terwyl ander in klein groepies die pad kruis. Dit was die ideale voorstelling van peace and tranquillity. Maar, iets was aan die gebeur. Die diere het stadig begin om onrustig te word. Die zebras het begin om skittish te word en het heen en weer gekyk. Die rooibokke het begin snort en soos groot skole vis rond te maal. En toe sien ons hom. Reg in die middel van die rumoer stap 'n enkele leeumannetjie doelbewus noordwaarts. Hy was nie die mooiste voorbeeld van leeu manlikheid nie (nie alle leeus kan soos leeu modelle lyk nie) en die bokke het die ou dop gehou daar waar hulle gestaan het. Miskien was daar 'n teken dat dit veilig was om nie te vlug nie. Miskien het die leeu klaar middag ete gehad en was op pad pub toe vir iets om te drink. Een van hulle moes seker gedink het dat 'n ander onlangs haar lewe verloor het aan die pote van die leeu.
Terug by die kamp het Leonie en my ma vir ons heerlike flap jacks met vis en kaas gemaak terwyl ons almal daarna 'n bietjie ontspan het.
Teen 13:00 se kant ry Nessie weer by die hek uit. Oor die bruggie het ons links gedraai en die vreemdste gesig in die rivier gesien. Honderde Marabou storks was in die vlak water en op die sand eilande in die rivier loop met honderde meer wat besig was om af te sweef om by hulle makkers aan te sluit. Die klomp van ons was nie seker wat ons sien nie. Dit was asof daar 'n konferensie aan was en elke lid van die Marabou stork groep was genooi. Daar is bitter min aksie te siene, so hulle kon nie almal daar gewees het om aan iets te aas nie.
Ons sou later uitvind (sien 22ste - ek dink) dat die voëls maar net op sekere tye bymekaar kom en as 'n groot groep was en drink. Dis die eerste keer dat ek ooit sulke groot nommers van hierdie lelike voëls in die Kruger bymekaar sien.
Na die vreemde bymekaarkom van die ooievare ry ons tot by die teerpad en draai in Olifants kamp se rigting en by die rivier langs vir 'n entjie. Van daar draai ons terug Olifants kamp toe vir voorraad en melkskommels. Selfs Nessie word bederf met 'n vol pens brandstof. Die rit terug kamp toe was onopwindend, asook die res van die aand. Die hoogtepunt vir my was die weerkaatsing van die laat middag son op die rivier asook die beeldskone sononder wat ons daardie aand gehad het. Ek sou se vir Leonie was die hoogtepunt seker by verre die vuurvliegies wat haar vermaak het. Sy se dit was die eerste keer wat sy hulle in die werklikheid gesien het en sy het gevoel of sy 'n vee verhaal beleef.
Hoogtepunte vir 20 Februarie
Deel Een (Oggend)
- Bateleur
- Gewone troupant
- Jakkals
- Gompou
- Luiperd en kitten
- Marabou stork
- Steenbokkie - grou gaatjie en druk soos 'n kat
- Korhaan
- Leeu
- Olifante
- Ground hornbill
- Koedoe
Deel Twee (Later)
- Tawny eagle
- Olifante
- Bobbejane
- Koedoe
Vrydag, 21 Februarie
Ons buurman by hut nommer 1 vertel vanmore vir my pa dat hy en sy vrou met die hut se deur oop slaap omdat dit so warm is. Julle moet verstaan dat hierdie plek wemel van die insek lewe. As daar 'n liggie skyn dan is daar 'n duisend sprinkane en ander gevlerkte goggas wat op die lig wil sit. Selfs sonder lig is die goggas orals, wat beteken hulle moes 'n redelike hoeveelheid van die goeters in hulle hut gehad het. My ondervinding met die twee vrouens in ons geselskap is dat die fyner geslag glad nie "compatible" is met die ses gevoete goggas nie. Hoe die buurman se vrou met sprinkane op haar gesig kon slaap, kan ek my nie indink nie.
Vir die eerste keer was ons vroeg genoeg klaar sodat ons moes wag vir die hek om oop gemaak te word. Om vroeg by die hek uit te wees is iets wat in die verlede vir my redelik belangrik was. Jy sien, om eerste die leeu te sien laat minder tyd aan ander mense oor om ook die leeu te sien. Dit is natuurlik belaglik, en met tyd het ek dit begin besef. Daar is wel iets spesiaal daaraan om vroeg die paaie in te vaar en te sien wat te siene is.
Die oggend uitstappie het toe ook goud gelewer. 'n Fotogeniese luiperd wyfie het ons aandag vas gevang terwyl ek en Nessie met die ander karre gestoei het om haar in ons "view finders" te hou. Na 'n tydjie van goeie fotografie het ek bietjie terug geval om twee ander karre geleentheid te gee om hulle "shutter" knoppies rooi warm te maak.
Dit was in die geskarrel van die mik en druk dat sommige van die toeriste se optrede vir my uit gestaan het.
Die eerste was ook vir my die snaaksste. Eintlik moet dit "sad" wees, maar op daardie tyd was dit meer amusant. Ontmoet meneer aggressief. Dis die man wat alles self doen en niks aan sy passasiers kan delegeer nie. Hy sal vorentoe jaag, die brieke aan slaan. Dan die kamera by sy vrou gryp, by die venster uit druk en dan weer terug ruk en vir sy vrou gooi, omdat die luiperd weer begin beweeg het en hy haar moet na sit. Dan stop die wyfie vir 'n oomblik, die man slaan brieke aan, gryp die kamera, gooi weer terug en sit weer voet neer. Met hierdie oneffektiewe optrede wonder ek hoe sy vrou moes voel. Die man laat nie toe dat sy of bestuur of die foto's neem nie. Ai!
Die tweede tipe toeris by hierdie geleentheid was meneer ongeduldig. Dis die ou agter in die lyn, wat oor die pad rond swaai en vorentoe "lurch" in die hoop om iets gesien te kry. Na 'n onvrugbare tyd van niks bereik nie, gooi die perd sy handdoek in en verdwyn in 'n groot stof volk die verte in.
Die ander tipe toeriste was natuurlik die normale mense wat geduldig hulle beurt afgewag het en foto's geneem het soos hulle die geleentheid gekry het.
Hoogtepunte vir 21 Februarie
Deel Een
- Black stork
- Arend (onseker watter een)
- Tawny eagle
- Gompou
- Aasvoël
- Hiënas (2 jongetjies)
- Koedoes
- Aasvoël (white backed)
- Immature African Harrier Hawk
- Tawny/Whalberg/? eagle
- Yellow-billed kite
- Vlakvarke
- Luiperd (in die pad)
- Korhaan wyfie
- Burchell's Coucal look alike
- Oxpecker
- Twee visarende by Balule
Deel Twee
- Steenbokkies
- Volstruise
- Koedoes
- Marabou stork
- Olifante
- Korhaan
- Longtail magpie shrike
- Vlakvarke
- Zebras
- Martial eagle
Saterdag, 22 Februarie
Met die gespook om 'n vinnige koppie koffie aan mekaar te slaan, trap ek amper op 'n skerpioen in die gras naby die vrieskaste in die hoek van die kamp. Eers kon ek nie uit maak wat ek sien nie, maar besef toe dat die skerpioen 'n groot sprinkaan op sy rug dra. Dis natuurlik die prooi wat hy gevang het wat hom vir die volgende klomp dae sal voer.
Ons was gelukkig om 06:15 by die hek uit te kom en was van plan om weer die S89 te verken. 'n Kort entjie uit die kamp loop ons 'n man raak wat vertel van 'n leeu aan die oorkant van die rivier naby die kamp. Ons verander toe ons plan en gaan verken op en af langs die rivier maar kon net spook leeus sien: "Ek dink ek sien hom! Daar, agter die bos." "Nope, nada. Net nog 'n stok of iets." Op een stadium het ons geluk geslaan toe die spook leeu in 'n regte hiëna verander. Dis mos iets waarmee 'n mense kan werk: 'n regte dier en een van my ma se gunstelinge.
Ons draai toe suidwaarts op die S39 grondpad met die doel om by die Timbavati piekniek plek te stop vir iets koel vir die keel, verligting vir die blaas, en 'n lekker koelte vir die gemoed. Op pad word ons gestop deur 'n kar prop vol opgewonde uitlanders. In 'n dik Franse aksent word ons vertel "Lion! Lion!". Wat is die dan, dink ek by myself terwyl ons na die plek ry wat die man aangedui het. Nog spook leeus, wonder ek? Ewe skielik verskyn daar 'n groot wit kar in my truspieëltjie gevolg deur 'n reuse stof wolk soos die perd aan gejaag gekom het en toe moes briek aan slaan om nie in my vas te jaag nie. Duidelik het hy ook die nuus oor die leeus gekry.
Die Franse "lion" draai toe uit om sewe te wees. Vier welpies, twee wyfies, en die een mannetjie. So ver soos leeu sightings gaan was die een so boring soos meeste ander. Die katte het rond gelê en sleg wees en nou en dan het een 'n kop gelig om ons te vermaak. Op 'n punt het die mannetjie op gestaan en vir ons 'n mooi stel tande gewys. Leonie was rats genoeg gewees om dit vir ewig op digitale film vas te vang. Die sightings op die S39 was andersins baie goed met heeltemal te veel stoppe in die warm son. Ek was desperaat vir 'n koue een en 'n bietjie koelte.
By Timbavati gekom, spat ons in allerhande rigtings en sien om na wat omgesien moes word. Ons kom toe weer later onder 'n gras dakkie met 'n groot tafel by mekaar. Ek gebruik die geleentheid om my notas op datum te bring, terwyl my ouers sit en gesels. Leonie trap die piekniek plek plat met haar kamera en skiet alles was beweeg. Waar sy haar energie vandaan kry weet ek regtig nie. 😉
'n Man en vrou, beide geklee in bos uniforms met naam plaatjies, met hulle twee seuns, daag toe op en huur 'n skottel om kos te maak. Daar was 'n klompie dinge aan hulle wat vir my uit gestaan het. Die eerste was hoe georganiseerd hulle was. Al die kos was vooraf voorberei en in plastiese bakkies verpak. Die deksels het net af gekom en die inhou is uit geskud waar dit nodig was. Tweedens het dit gelyk of die man en vrou oor geloop het van self vertroue en trots op die feit dat hulle ere veldwagters was. Vir my was dit die regte houding wat 'n mens in sulke uniforms moet he. Trots op jou werk en wat vir jou belangrik is.
My ma, wat nie op haar bek geval het nie, besluit toe om hulle algemene kennis te toets met 'n stel ingewikkelde vrae. Wel, ons het nie die antwoorde geken nie, daarom sê ek dis moeilik. Ons wou almal weet hoekom die Marabou storks in sulke groot nommers bymekaar kom. Iets wat ons nog nooit van tevore gesien het nie. Die man en vrou was meer as gewillig om hulle kennis te deel en vertel dat die voëls op sekere tye van die dag by mekaar kom om te was. Hulle is glo vuil voëls, net soos aasvoëls. Ek het iets meer skynheilig van die lelike voëls verwag, maar hierdie verduideliking het sin gemaak.
By Satara het ons ietsie gaan eet en drink voordat ons om gedraai het vir Balule. Op pad stop ons op die groot brug oor die Olifants rivier en neem 'n klomp lawwe foto's.
Die aand braai my pa en ma die vleis terwyl Leonie en ek van die geleentheid gebruik maak om vir oulaas 'n laat middag rit te vat. Ons geluk om diere te sien was maar min en die beste wat ons kon doen was 'n pied kingfisher en 'n krokodil by die lae bruggie naby die kamp. Die sononder oor die rivier het wel vir die res op gemaak.
Hoogtepunte vir 22 Februarie
Deel Een
- Hiënas
- Skerpioen
- Yellow-billed kite
- Hamerkop
- Pied kingfisher
- Seekoeie
- Krokodil
- Grey heron
- Kameelperde
- Zebras
Deel Twee
- Ground hornbill
- European bee-eater
- Double-banded sandgrouse
- Blou willes
- Drie ground hornbills
- Red-billed hornbills
- Read-headed finch
- Sewe leeus
- Twee eagle owls
- Juvenile bateleur
Deel Drie
- Twee koedoes
- Olifante
- Buffel
- Levaillant's Cuckoo
- Bee-eaters
Deel Vier
- 2 Olifante (groot / jonger)
- Vlakvark in modder
- Hiëna by Balule hek. Ons was by hut.
- Krokodil
- Pied kingfisher
- Crowned hornbill
Sondag, 23 Februarie
Ons is almal vroeg op en aan die gang en die koffie is gemaak. Die weervoorspelling sê daar is vandag reën op pad. Na die baie reën wat 'n week voor ons aankoms nog ons rit bedreig het, moet ek erken dat ons fantastiese goeie en warm weer tot dusver gehad het. Ook is die bos so mooi en gesond soos wat ek nog ooit gesien het. Hierdie tyd van die jaar is darem die beste om die Kruger op sy groenste en volopste te sien. Die enigste uitdaging is net om die hitte te oorleef.
Nog in die kamp kon ons karre aan die oorkant van die rivier sien wat doenig was so asof hulle iets sien en rond skarrel om foto's te neem. Dis daar waar die spook leeu van gister was. Miskien is hy terug. Miskien kan ons hom vandag sien. Ons het besluit om ondersoek te gaan in stel sodra ons die pad vat.
Jip, dit was 'n leeu. Die ware Jakob - geen spook stories nie. Die jong mannetjie het stadig noordwaarts langs die rivier beweeg en baie gestop om te ruik en vir kort rukkies te lê.
Ons het by die dagbesoekers plek by Letaba gestop om mosterd en kaas boerewors rolletjies te maak vir ontbyt asook vir die lang pad huis toe. Ons was die enigste besoekers daar op daai punt. Weer was ek verbaas oor hoe mooi die plekkie is. Die bome is groot, dig, groen en wemel van die voëllewe. Die drie van ons het lekker geëet terwyl Leonie met haar kamera die plek plat getrap het. Niks het haar valk oë ontglip nie.
Die oggend was koel en winderig en teen die tyd wat ons klaar geëet het het dit baie liggies begin drup. Dit wil voorkom of die weervoorspelling dit reg gehad het. Ons het meer sagte reën tee geloop soos ons uit die park gery het en swaar reën by Magoebaskloof. Die res van die pad was onopwindend en ons het die middag om 17:30 by die huis gekom.
Hoogtepunte vir 23 Februarie
- Een leeu oorkant rivier by kamp
- Giant kingfisher
- Waterbokke
- Kom veilig in Johannesburg aan
Afsluiting
So ook moet alle goeie dinge tot 'n einde kom. Ons het hard gewerk om dit te voorkom, maar na agt dae en agt nagte verloor ons toe die stryd teen die horlosie en moes ons vir Nessie pak en, met 'n traan in die oog, die Kruger agter laat.
Hierdie besoek aan die Kruger was vir my belangrik vir 'n klompie redes.
Eerstens kom ons nie genoeg weg as 'n familie nie. Een van die dinge wat 'n groot indruk op my gemaak het was toe Billy en Cindy vir ons almal 'n wegkom kans op hulle gunsteling plaas gereël het. Dit was iets wat ek altyd sal onthou en graag sal wil herskep. Dis ongelukkig nie genoeg om 'n bestemming tot jou beskikking te hê as almal nie daar kan wees nie. Hierdie trip was dan my poging om 'n kleiner groepie by mekaar te kry en saam iets te doen.
Tweedens, en niemand het dit sien kom nie, het die COVID-19 virus die wêreld getref en absoluut alles vir almal verander. Sekere aspekte van ons lewens sal dalk nooit weer dieselfde wees nie, soos ons geldsake. Met hierdie donker wolk oor ons koppe is ek is nie seker wanneer ons weer 'n geleentheid soos die sal hê nie.
Derdens het Leonie en ek net begin herstel na ons afleggings in 2018 en het besluit om iets spesiaal te doen. Met ons tradisie om met verjaarsdae weg te gaan, was Februarie 'n outomatiese keuse. Ons sou andersins nooit so laf gewees het om hierdie tyd van die jaar bos toe te gaan nie.
Dan ook is daar die vraag: hoekom weer die Kruger? Dis 'n maklike vraag om te antwoord en ek doen dit in twee dele. Die eerste is dat die Kruger beter is as wat jy dink. Dis wild genoeg, groot genoeg, ver genoeg, en mooi genoeg om gereeld terug te keer. Dan ook is dit maklik genoeg om die besprekings self te doen sonder om jou vingers tot die elmboë op te eet van die angs om die datums te kry wat jy wil hê. In kort, dis 'n heerlike en wilde wegkom kans wat maklik is om te reël en aan te pak.
Dankie ook aan jou, die leser, wat ons avontuur met ons gedeel het. Dis moontlik om tussen hierdie digitale bladsye weg gevoer te word en vir 'n kort tydjie saam met ons in die bos te wees. Ek hoop jy het die ondervinding geniet.
die einde